Die soeke na ‘n droom

Ek is op soek na ‘n droom. Dis nou die teenoorgestelde van Martin Luther King Jnr se “Ek het ‘n droom” toespraak. Ek soek een.

Wie en wat is ek?

Ek is ‘n doodgewone, raps oor die 30 vrou. Werkend. Ma. Twee woorde wat afsonderlik kan funksioneer, maar as gevolg van die huidige ekonomiese toestand saamgeflans en as een begrip gesien word naamlik, Werkende Ma. En dan nog Vrou. Hoofletter V. Oor daai ene is en sal daar nog boeke geskryf word.

Ek gee kos, bad, sing liedjies, maak broodjies en bottels, laai op, laai af, neem dokter toe, ballet toe, krieket toe, werk toe, huis toe. En o….ja slaap.

 Tussenin diè spulletjie het ek myself verloor. Eers my lyf, maar dis ook ‘n ander hoofstuk…. En toe myself. Dit klink bietjie kras as mens dit so lees, maar dit is hoe ek voel. My huis en man en kinders en familie kry genoeg van my. Ek kuier en is opgewek en doen die regte dinge. Ek werk lekker en niks meer as die gewone krap daar nie. Maar ek voel nie meer myself nie… ek staan nie op in die oggende en dink, oeeee ek kan nie wag vir …. nie. Die vraag is: Wat is my dotjie dotjie dotjie?

Ek hoop met die blog gaan ek dit kan uitpluis… of dat mede-bloggers my in ‘n rigting gaan instuur. Die ding van ‘n droom is dat dit soos meeste dinge in die lewe is. Dit help nie jy praat (of in diè geval skryf) net daaroor nie, jy moet aktief daarvoor soek en iets D.O.E.N.

So, hier’s my plan. Ek gaan van my Coricraft-bank opstaan en begin beweeg. Nogal moeilik as jy ‘n paar addisionele kilo’s opgetel het na Kind nr.1 en nr.2. Elke maand moet ek iets nuuts probeer en sal hieroor kom verslag gee. Idees is natuurlik welkom!

Augustus is klaar vas. Ek begin volgende week met “bootcamp”  (wat sal die Afrikaans hiervoor wees? Sweetkamp? Troepie-oefen?). Een uur, drie maal ‘n week, vir ‘n maand. Sentimeter verlies gewaarborg.

Behoede mein siel.

 

*Soekie*